Wees impulsief

Ek het nog nooit net iets onmiddellik geskryf en oor hierdie blog van my gepost nie. Ek het nog altyd eers my storie apart op ‘n stuk papier geskryf, dit baie verander en dan dalk dit gepost. Maar die afgelope tyd het ek die grootste liefde ontwikkel vir impulsiewe besluite neem.

Soos toe ek ‘n paar weke terug my redelike lang hare afgesny het en ook ‘n kuif geknip het ten spyte van die feit dat ek ‘n baie duidelike kroon in my haarlyn het. Ook toe ek en ‘n vriendin ‘n oorbel deur die kraakbeen van ons oor laat skiet het (dit was regtig nie seer nie). Of toe ek en my vriendinne tydens ‘n sonsondergang by die see vir die branders geskree het. Ja, net geskree. Nie woorde nie, net skoon emosies en frustrasies.

Partykeer word die beste stories geskep wanneer mens dit nie beplan nie. En daai sin is die opsomming van 5 jaar op hoërskool. Ook eintlik die opsomming van my 18 jaar se bestaan op Aarde tot dusver.

Hoërskool was baie dinge, maar dit was meestal een ding. Vinnig. Dit was verby voordat ek gevoel het dat dit eintlik gebeur het. (Maak daai sin?) Ek kan nie glo dat soveel duisende herinneringe só vinnig kon verby gaan nie. En vandag is ek spyt dat ek nie meer energie ingesit het om elke oomblik in te neem en te koester nie. Ek is spyt dat ek nie my vermoëns op elke gebied getoets het nie en dat ek nie meer uit my gemaksone geklim het nie. Ek is spyt dat ek skaam was en my bekommer het oor wat mense van my dink. Ek is spyt dat ek partykeer te hard geleer het. Ek is spyt dat ek nie meer besig was nie. Ek is spyt dat ek nie met meer mense te doen gekry het nie en meer vriende gemaak het nie. Ek is spyt dat ek mense geoordeel het.

Spyt kom maar mos altyd te laat. Maar ek is nie spyt oor alles wat ek geleer het nie. Ek is dankbaar vir my vriende wat my gevorm het deur die jare en wat my anker was en steeds is. Ek is so bly dat ek uiteindelik besef het dat die lewe begin buite mens se gemaksone. Ek is so bly dat ek besef het dat ek tot soveel in staat is en dat ek die potensiaal het van die wind. Ek kan orals heen gaan waar ek wil. Ek is bly dat ek uiteindelik besef het dat mens nie jou hoef te bekommer oor ander mense en hulle opinies nie. Ek is ook bly dat ek in ‘n kwessie van minder as ‘n halwe jaar wel ander mense leer ken het en besef het dat mense oseane is. Jy kan hulle nie ken deur net na die oppervlak te kyk nie. Die mens is diep en kompleks.

Dit was ‘n 5-jaar leerskool wat my baie meer geleer het as net boekkennis. Ek het myself leer ken (en is steeds besig). Ek het mense leer ken. Ek het gegroei. Ek het impulsief geword. ‘n “Go-getter”. ‘n Vrye siel. ‘n Sterk mens. ‘n Dagboek vol herinneringe wat my agtergeblewenes hopelik eendag sal lees. Want om eerlik te wees, is dit al wat ek wil wees. Ek wil onthou wees. Ek wil ‘n lewe leef wat onthou word en wat vol is. Vol soos my hart.

Wees impulsief. Doen daai ding wat jy nog altyd wou doen. Komplimenteer hom/haar. Sê vir mense hoe baie jy vir hulle omgee. Droom groot. Gaan ry fiets. Eet die roomys. Spring in die swembad. Bel iemand. Knip jou hare. Kry ‘n tattoo. Skree vir die see. Gaan ry perd. Speel “paintball”. Klim ‘n berg. Dans. Sing. Doen alles sodat jy kan terugkyk en dink: ek het geleef. Die lewe is kort.

4 thoughts on “Wees impulsief

Leave a comment