Jy Is jy okay? Die wêreld se wolke sak soms bo jou kop Reën drup agter jou brille van speletjies en films wat soos vensters al die storms binne jou wegsteek
As jy maar net geweet het dat ʼn storm beter buite die vensters is en jy veilig is in die huis van my troos
Jy Is jy okay? Jy sluit die wêreld se geskree toe met jou oorfone soos ʼn kluis met verlore paspoorte van mense wat nêrens heen gereis het nie
As jy maar net geweet het dat ek beter luister as jou oorfone en dat jy nêrens in hierdie wêreld alleen sal kan reis nie Ons paspoorte volg mekaar anders as die mense van die wêreld sin wat konstant skei
Jy Is jy okay? Jy lig gewigte op om die las op jou hart ʼn bietjie ligter te laat voel
As jy maar net geweet het dat my hart toegerus is om jou laste ook te lig Hierdie hart van my pyn dalk soms meer as joune Maar ek dink hy klop ook bietjie meer as joune
So bring jou paspoort en reis saam met my na ons huis van Vertroosting En stap saam met my in die stormreën daar buite Want eendag gaan die swaar wolke lig en die son gaan helderder skyn as ooit
En ek sal na jou kyk en sê: ek het jou gesê dat jy nêrens in hierdie wêreld alleen sal reis nie
WordPress.com is excited to announce our newest offering: a course just for beginning bloggers where you’ll learn everything you need to know about blogging from the most trusted experts in the industry. We have helped millions of blogs get up and running, we know what works, and we want you to to know everything we know. This course provides all the fundamental skills and inspiration you need to get your blog started, an interactive community forum, and content updated annually.
Na 2020 en alles wat gebeur het tesame met alles wat nie gebeur het nie, voel ek so vry. Dit voel vir my soos wanneer jy onder water swem en alles rondom jou net so stil en kalm is. As iemand uit die nêrens uit in die water inspring, bruis die borrels om jou en dit klink glad nie so hard soos wanneer jy buite die water is nie. ʼn Geskree onder die water is ook amper onhoorbaar. Selfs ʼn vuishou, ʼn skop of ʼn knyp is vir een of ander rede minder pynlik onder die water.
Onder water beweeg alles stadig en alles voel so buite jou beheer, maar tog so vry.
2020 het almal se kop onder die water gedruk en hulpeloos uit beheer laat voel van ons lewens. Maar selfs in hierdie toestand waarin ons nie kon asemhaal nie (letterlik), het ek my vryheid gevind. Om dinge waaroor mens glad nie beheer het nie, te aanvaar, is vryheid. Om oor te gee, is vryheid. Om jouself los te maak van die onbelangrike opinies van ander mense wat jou verdrink, is vryheid. Om hoe jy voel oor dinge te erken en te hanteer, is vryheid. Om ten spyte van enigiets steeds te glimlag, is vryheid. En soms verg dit dat jou kop onder die water gedruk moet word sodat jy in dié stilte steeds jou eie hartklop kan hoor en besef: ek lewe. Ek wil nie eendag doodgaan en dan eers besef dat ek nie gelewe het nie.
In 2020 het ek geleer dat jy nie moet toelaat dat die lewe en opinies van mense jou uniekheid en drome verdrink nie. Laat jou passies en geloof klop al voel dit jy sink.
Jy sal dit nooit weet nie Maar in my gedagtes is jy die sambreel wat my trane van pyn en verwerping keer sodat ek nie verdrink nie maar eerder net onder ʼn effense toevlug van jou kan kyk hoe my trane langs my voete drup
Ekʼs jammer ek misbruik jou Dink net aan jou as dit begin reën Maak jou oop net as die druppels te swaar val en bêre jou weer as dit opklaar Dis my manier van oorleef En jy sal dit nooit weet nie Want jy dink elk geval dat dit nooit reën op my lewe nie
Die son het gesak Die dag is verby Karre jaag huistoe op die hoofweg langs my huis Vrydag Die wolke verdwyn nou ook Maar een klein pienk wolkie bly nog bo soos ʼn letsel op ʼn gesig Amper asof hy nie kan aanvaar dat die dag verby is nie Of amper asof hy vir almal wil wys hy was daar, soos enige letsel
Jyʼs die pienk letsel op die gesig van my hart So alleen, so seer, so uitsonderlik Anders as die ander wolke van my lewe En dis amper asof jy nie wil weg nie Ek mis jou Maar verdwyn in die naglug asseblief Ekʼs moeg van jou probeer wegsteek agter ʼn sonskyn gesig en pienk is lankal nie meer my kleur nie
Verlang. Hoekom is verlange so ʼn verskriklike sterk emosie? Of sal jy dalk saam met my stem dat dit baie meer as slegs ʼn emosie is? Ons almal praat die taal van verlang.
Wanneer ek vir ʼn dag by een van my oumas of oupas gaan kuier, word die taal van verlang so mooi aan my geartikuleer. My oumas en oupas is geneig om my ore van my kop af te praat oor die bekende ou dae. Dit hardloop a-chronologies tussen stories van hulle ouers, plaaslewe, koshuislewe, werk, hulle oumas en oupas, skool, studies en blyplekke. Soms word iets van elk van die voorafgaande in een storie ingeprop en ek gaan nie jok nie, ek dink nie ek hou meer heeltemal by met elke geskiedenisles nie. Daar is wel van die stories wat elke keer vertel word en wat ek noual so hard voor saam lag, mens sou dink ek was self daar. Ek wens ek was. My oumas en oupas se lewens klink na die moeilikste, maar lekkerste dae ooit. So vol vrede.
Ek sluit myself al by die verlang in wanneer my oumas en oupas met soveel respek oor hulle oorlede ouers praat. Die trane stoom op in my oë wanneer ons voor my ouma se ma se hospitaalbed staan en sy nie ʼn enkele woord kan uiter nie. Slegs ʼn traan. Maar ʼn traan is meer as genoeg vir die taal van verlang. Die bossie blomme bot in my oë as ons voor die grafstene van my ouma se ouers staan. Moeder en vader. Langs mekaar, want selfs die dood kon hulle nie skei nie.
Ons almal praat die taal van verlang, maar die ou mense praat hom die mooiste. En dit juis omdat hulle al genoeg moes verloor om na te verlang.
Ek raak die taal van verlang al hoe meer baas soos die jare aanstotter en die wiel draai. Ek word deel van elke storie wat hulle my vertel. ʼn Byspeler van formaat. Ek kan amptelik bevestig dat ek in die verkeerde era gebore is. Want ek weet nie of daar iets is wat my hart meer gerusstel as die milieu van ʼn kombuis met die reuk van plaasbrood en beskuit, ʼn trekklavier in die agtergrond, kaalvoet-kindertjies met hoede en kouse wat rol oor die gras en ʼn oorheersende atmosfeer van konserwatiewe geselskap en vrede nie. Vrede.
Min weet die ou mense hoe hulle stories gemis gaan word wanneer hulle stemme eendag moet stilraak. Want dit is presies op daardie oomblik wat die taal van verlang in die hande van die volgende generasies oorgegee word. Ons almal praat die taal van verlang, maar ek belowe ons sal hom selfs mooier praat. Na julle sal daar baie verlang word.
Ek het lanklaas iets ordentlik op my blog gepost. En met iets ordentlik, bedoel ek ʼn opstel of 5 wat ʼn aaneenlopende storie volg en ʼn boodskap uitlig wat lesers laat stop in hulle spore oppad na die winkel toe. Iets wat lesers 2 keer moet deurlees om al die woorde en inligting en dieper betekenis te ontsyfer en in te neem. Ek gaan eerlik wees, ek dink ek het op skool laas probeer om so iets te skryf.
Deesdae skryf ek net sinnetjies of aanhalings neer wat deur die dag my byval terwyl ek sit en dagdroom. Ek skryf kort gediggies met regtig geen dieper betekenis nie. Ek sê dit nes dit is. Reguit. Daar. Swart ink op wit papier.
Ek vind dit deesdae moeilik om my gedagtes te orden en bymekaar te hou in die winderige lewe rondom my. Ja, ek voel my lewe is soos die wind. Ons almal se lewens is soos die wind. Ons jaag, maar na niks. Ons werk, maar vir niks eintlik behalwe geld nie. Ons huil, maar oor onnodige en selfsugtige dinge. Ons lag, maar dis eintlik net fals. Ons praat, maar ons sê niks. Ons gee om, maar net oor onsself. Ons reik uit, maar nie te ver nie. Ons leef, maar soos die wind. Sommige dae verwaai hy alles en oordonder die aarde met sy geraas. Maar môre is hy weg.
En dan wonder ek, wat is die punt? Wat is die punt van hierdie winderige lewe wat ons leef? Miskien is hierdie dalk hoekom ek sukkel om te skryf deesdae. Niks voel regtig meer opwindend wat enige iemand doen nie. Alles is net so eentonig. En in roetine. Miskien is ek die enigste een wat so voel omdat ek te veel dink oor dinge.
Miskien moet ek ophou om so baie te dink oor die wind en dit net voel. Net my arms oopmaak en die wind vóél.
Voel. Ek hoop jy voel ten minste nou en dan. Om te voel herinner mens dat die lewe miskien nie net wind is nie en dat jy lewe. Jy lewe. Voel dit.
So, elke jaar as ek verjaar gaan daar ʼn klomp goed deur my kop. Ek voel mens kan nie net in ouderdom ouer word nie. Jy moet verstandelik ook ouer word. Mens moet volwasse word.
19 is nou nie eintlik ʼn teikenmerk in die spel van ouderdomme nie. Dis ʼn verskriklikke vreemde ouderdom. ʼn Tussen-in ouderdom. Jy het nog nie jou 20ʼs geslat nie, maar jy is ook noual oor die 18-jaar-oue-mentaliteit en die groot bohaai wat met dit gepaard gaan (dit is nie eintlik so groot nie… Miskien vir ʼn week voel jy die lewe verwag nou skielik te veel van jou, maar dan raak jy gou gewoont aan dit en gaan aan met jou lewe… Todat jy 19 word en besef wow die jare gaan nou net verby). So, 19 is net vreemd. Punt. Maar toe besef ek nou die dag dat elke verjaarsdag eintlik ʼn teikenmerk in die spel van ouderdomme is. Dit is nog ʼn jaar wat jy bevoorreg was om te leef. En, die waarheid is, almal se spel lyk anders. 19 kan dalk jou laaste lewe in die speletjie wees. Wie weet? Hoekom is 21 ʼn groot een? Of 30? Wie sê jy leef nog so lank?
Elke jaar wat ek ouer word, vergelyk ek myself met wie ek was ʼn jaar tevore. En ek is trots om te sê dat ek soos ʼn hele ander mens voel as wat ek was toe ek 18 was. Ek voel soveel meer volwasse. Ek voel wyser. Ek voel groter. Ek voel sterker. Ek voel beter. En ek verstaan dat alles in die lewe ʼn proses is. Soos hulle vir my pragtig geleer het op skool, verg ʼn proses veranderinge. Niks kan geprosesseer word sonder dat dit verander word nie. Ek voel ek is konstant besig met een of ander veranderingsproses in myself. Ek wil altyd myself verbeter en my limiete toets. Anders is die lewe regtig te vervelig.
Dalk laat ek dit klink asof ek my lewe agtermekaar het (dis een van my sterkpunte), maar ek belowe ek het nie. Ek is 19. Nie 99 nie. (Kom ons hoop ek hoef nie vir so lank nog te skryf oor my verjaarsdae nie.) Miskien voel jy ook op ʼn vreemde tyd of plek in jou lewe en dit het dalk niks met jou ouderdom te doen nie. Miskien voel jy dat jy die teiken in jou lewe bereik het en jy is trots daarop. Miskien voel jy teikenloos en jy wandel maar net deur die bos met jou pyl en boog en skiet op enige iets wat soos ʼn teiken lyk.
Mik op die Here en Hy sal al jou teikens vir jou raakskiet en jy hoef nie eers enigiets te doen nie. Jy moet net jou pyl en boog oorgee.
Ek hoop jy vind
jou rigting deur die
bos en kry tog
ook nog genoeg
tyd om die bome
se blare in te
asem en die reën-
druppels van jou
lippe af te lek
terwyl jou voete
liedjies klop oor
die klippe in jou pad.
ʼn Asemteug van vars lug
skeur die stiksels van
digte maskermateriaal
breek die lyste vol
reëls van inperking
en – grootste van als –
gee die jeug sy
stem terug
Sy stem van aflegging
van die verlede
en sy begeleiding
tot ʼn koor van ʼn
onsekere maar nooit
vervelige toekoms